|
NG Kerk Noordelike Sinode |
|
1. Jan Kasper Gerhardus van Zyl (Jannie) (1833 gebore) het op 5 April 1885 sy plaas Hoedklip in die Molteno distrik verkoop en die trektog noordwaarts aangepak om Waterval naby Krugersdorp op 17 Junie 1885 te bereik. Hy het te Pretoria by genl. Piet Joubert van die plaas Vischgat (No. 520 KR), nagenoeg 4 000 morge groot, in die Waterberg distrik verneem. Op 'n veiling het hy dit ongesiens vir £ 300 gekoop en kontant daarvoor betaal. Sy trek het Vischgat met sy reeds bekende warmwaterfontein op 25 September 1885 bereik. Daarmee het hulle die eerste permanente bewoners van die plaas geword. Die gerieflike en stewige kliphuis met die naasliggende klipskuur is gedurende 1896 voltooi. 2. Jan Kasper Gerhardus van Zyl (Jannie jr.) was sestien jaar oud toe hy saam met sy ouers op Vischgat aangekom het. Nadat eers sy moeder (1896) en later sy vader (1916) oorlede en op die plaas begrawe is, het hy die boerdery oorgeneem. Gedurende sy tyd is die fontein aan die Bad Zyn Loop-spruit aanvanklik net deur die familie en vriende benut en het dit as Van Zyl-se-bad bekend gestaan. Uit Jannie se huwelik met Kobie van Deventer is elf kinders gebore. Hulle jongste seun sou mettertyd onder leiding van die Here 'n besonder deurslaggewende besluit neem. 3. Louis Jacobus van Zyl (15.01.1915 - 03.04.1985) (Vick) het in 'n baie godsdienstige gesin en familie opgegroei. Hy is gedurende 1939 met Louisa Johanna Wietziena Geyser (06.04.1921 - 16.03.2009) (Wiekie) getroud. Saam het hulle voortgebou op die fondamente wat hul onderskeie ouers vir hulle gelê het deur aktief by hulle gemeente, die skool en georganiseerde landbou betrokke te wees. 4. Gedurende 1943/1944 het ds. Norval Geldenhuys (wat in 1948 'n beroep na Naboomspruit aanvaar het) 'n CSV-kamp op die plaas gehou. Die kampterrein het hierna toenemend binne die NG Kerk bekend geword. Op 14 Maart 1949 is die terrein amptelik besoek ten einde die geskiktheid daarvan vas te stel. Die gunstige verslag het meegebring dat die eerste kamp vanuit die kantoor van die Jeugorganiseerder vir Transvaal (Gert van der Westhuizen) vanaf 2 - 18 Julie 1949 gereël is. Die tweede groot jeugkamp het in Julie 1950 aldaar plaasgevind. Op Maandagoggend 17 Julie 1950 het oom Vick teen ongeveer 11:00 op die terrein aangekom. By die leidam het hy vir die Jeugorganiseerder gesê: "Oom Gert, my vrou en ek het besluit om hierdie plekkie skoon as offer aan God, aan die jeug van ons kerk te skenk!" 5. Die Sinodale Kommissie vir Opvoeding en Onderwys het 'n boukommissie benoem wat op 9 Junie 1952 gekonstitueer het. In 1954 is met die eerste bouwerk aan die kampterrein begin. Die eiendom is op 16 Augustus 1963 as Badseloop Jeugkampterrein in die naam van die NG Kerk van Transvaal getransporteer in trust vir die jeug, en het hierdie naam amptelik sy beslag gekry. Gedurende 1970 - 1977 is begin om slaapsale en 'n ablusieblok aan die oorkant van die Jordaan te bou en die gedeelte het na verdere aanbouings vanaf 1979 ontwikkel in 'n volwaardige tweede terrein. Die vernoeming van die twee terreine in Warmbron en Bosveld dateer uit hierdie tydvak. Op 3 Februarie 1983 het die bestaande Badseloopbeheerraad te Naboomspruit gekonstitueer. 6. In opdrag
van die Beheerraad het ds. Kobus Gerber (skriba van die Sinodale Jeugkommissie
Noord-Transvaal) 'n baie volledige voorlegging op 18 Augustus 1988 aan die
Sinodale Kommissie
voorgelê. Die doel was om die meesterbeplanning van die
projek genaamd Bou en Behou Badseloop bekend te stel met die oog op
omvattende opgradering en uitbreiding van Badseloop ten bedrae van sowat R2
miljoen.
Finansiële redes het hierdie projek egter grootliks in die wiele gery.
Die Beheerraad vertrou die Here dat Hy op een of ander wyse die middele sal
voorsien sodat aan hierdie projek uitvoering gegee sal kan word. 7. Kyk op Badseloop se tuisblad onder TOEKOMSDROME om 'n beeld te kry van wat beoog word en om die pragtige logo te sien wat die bekende Lynette ten Krooden geskep het om aan hierdie projek 'n gesig te help gee.
Terug na Badseloop Tuisblad |
|
Stuur pos na
hermien@noordsin.co.za met vrae en
kommentaar oor hierdie webtuiste. |