|








| |
Natuurskoon
Ons glo onwrikbaar dat God Homself op
die allerduidelikste wyse in sy Woord aan ons bekendstel. Ons nooi u uit om op
Badseloop nog 'n mooi boek van Hom te kom besigtig - die natuur waarin alles,
groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy
ewige krag en Goddelikheid, duidelik met ons eie
oë laat sien:
1. Warm
mineralewater
Badseloop is letterlik aan die voet van die Swaershoekberge
geleë wat deel
uitmaak van die Waterberg bergreeks - een van die oudste en mees unieke
geologiese strukture in ons land. Dit het sy naam gekry
vanweë die talle
natuurlike watervalle, standhoudende fonteine en stroompies wat uitmond in vleie
en riviere soos die Nyl. Die warm mineralewater is sekerlik een van Badseloop se
allergrootste bates en is daar op grond van die feit dat dit in die hart van die
grootste warm mineralewatergordel in Suid-Afrika
geleë is.
2. Omgewing
Badseloop is binne 'n streek
geleë
wat oor soveel onbeskryflike natuurlike bates
beskik dat
wêreldleiers nie anders kon as om dit onder internasionale wetgewing
en konvensies te proklameer nie:
Sowat 16 km suidoos
van Badseloop is die ekologies sensitiewe Nylsvley-natuurreservaat wat beskou
word as die grootste en bes bewaarde vloedvlakte in Suid-Afrika. Dit geniet die
uitsonderlike status dat dit op 7.7.1998 as 'n RAMSAR
wêrelderfenisgebied
geproklameer is!
Badseloop is ook
binne die Waterberg-Biosfeer
geleë wat deur UNESCO tot 'n biosfeer-reservaat
geproklameer is!
Besonderhede van
waar terreine met unieke historiese, argeologiese en geologiese waarde
geleë is, kan by die Waterberg-Nyl Toerismeforum bekom word - kyk op Badseloop se tuisblad
onder: SKAKELS.
3. Fauna
Draadheinings hou alles behalwe koedoes weg van die kampterrein af! Maak egter
'n punt daarvan om die volumeknoppie van jou radio en klankversterker sagter te
stel (of eerder die ding by die huis te los!), dan sal dit wat geen draadheining
kan keer nie, gesien en gehoor kan word. 'n Besondere verskeidenheid
voëls
kom
hier voor soos houtkappers, janfiskale, kraaie, roofvoëls, swaweltjies en
sysies. Kom bekyk die vinke, laksmanne en troupante vir hulle kleureprag. Kom
luister na die bosveldvisvanger, die mikstertbyevanger en die vleiloerie se
jubeltone! Bestudeer die veervolkies tuis en kom ontdek hoedat hulle hul
skugterheid verloor wanneer dit op Badseloop stil word. Tydens 'n onlangse
voëlsensus in die omgewing is sowat 250
voëlspesies getel! Kyk op Badseloop se
tuisblad onder SKAKELS.
4. Flora
Die plantegroei op Badseloop is tipies van die distrik en kan in twee veldtipes
verdeel word: Die
hoërliggende gedeeltes met sy suurbosveld (bv. by die
kruiskoppie bokant Warmbron) en die soetdoringveld (bv. aan die oostekant van
die sportveld op Bosveld waar die grond tekens van turfagtigheid begin vertoon
soos wat dit op die Springbokvlakte voorkom). Hier kom 'n ryke verskeidenheid
bome voor. In die klowe en
hoër op sal jy bergkaree, bergsering, boekenhout,
haakdoring, harpuisboom, kiepersol, kierieklapper, lekkerbreek, nabome,
olienhout, witstinkhout en selfs suikerbosse opmerk. Laer af sal jy doppruim,
ghwarribos, huilbome, karee, maroela, rooi ivoor, taaibos, tambotie en
wildesering yl versprei opmerk. Die rivierlope en soetdoringveld word gekenmerk
deur apiesdoring, blouhaak, brosdoring, haak-en-steek en plate sekelbos.
Terug na Badseloop Tuisblad
|