|
Reëlings & Reëls VIR DIE GEBRUIK VAN BADSELOOP
JEUGKAMPTERREIN
1.
BESPREKING VAN DIE TERREIN
1.1 Die reg van toegang
tot die terrein word voorbehou en setel in die Beheerraad daarvan.
1.2 Dit is 'n uitdruklike voorwaarde vir die huur van die terrein
dat 'n bespreking summier deur die Beheerraad sonder opgaaf van redes
gekanselleer kan word indien hy vooraf enige negatiewe inligting oor voornemende
huurders bekom wat daarop dui dat die naam van die Ned Geref Kerk of die
kampaksie of die terrein skade berokken kan word.
1.3 Die twee terreine, Warmbron en Bosveld, word afsonderlik
vir verhuring beskikbaar gestel. Besprekings word telefonies of
skriftelik by: DIE SKRIBA, BADSELOOP BESTUURSKOMITEE, POSBUS 26, NABOOMSPRUIT,
0560 (TEL 014 743-0152, FAKS 014 743-3839) gedoen.
1.4 Besprekingsvorms en inligting sal per faks of e-pos aan u gestuur
word. Om u bespreking te bevestig moet die besprekingsvorm en bewys van betaling
van die deposito binne drie weke aan die Skriba gestuur word.
1.5 Indien u in gebreke bly om u bespreking te bevestig sal dit
gekanselleer word om aan ander huurders die geleentheid te bied.
1.6 Alle tjekbetalings moet uitgemaak word aan: BADSELOOP
JEUGKAMPTERREIN. Internet- of bankoorplasings-besonderhede is soos volg:
Bank: ABSA Naboomspruit; taknommer: 334-148; tjekrekeningnommer:
108 014 1862. Die naam van die huurder, asook die datum van die kamp,
moet asseblief op die betaalstrokie aangebring word.
1.7 In die week voor u gaan kamp moet u die Skriba (tel. 014 743-0152) of
die Terreinbestuurder (tel. 082 889 0060) skakel om u bespreking te
herbevestig en te meld hoe laat u op die terrein gaan arriveer.
1.8 Vorm 2, hierby aangeheg, moet onmiddellik na afloop van die kamp
voltooi en saam met die bewys van betaling van uitstaande kampgelde aan die
Skriba teruggestuur word. Baie belangrik!!
1.9 Die volgende voorwaardes geld ten opsigte van die Avontuurterrein:
1.9.1 Huurders sal hierdie terrein op hulle uitsluitlike eie risiko
gebruik en vrywaar die NG Kerk en die eienaar van die bepaalde eiendom teen
enige eis as gevolg van beserings, ongelukke of skade aan persoonlike besittings
of eiendom;
1.9.2 Huurders sal hierdie terrein onder toesig van gekwalifiseerde
instansies en met geskikte toerusting wat deur die huurder self voorsien word,
gebruik;
2.
TARIEWE
Sien TARIEWE-skakel.
3.
KANSELLASIE VAN BESPREKINGS
3.1 Die Skriba moet asseblief dadelik in kennis gestel word indien
'n bespreking gekanselleer word.
3.2 Indien 'n bespreking binne vier weke voor die aanvang van 'n kamp
gekanselleer word, sal die deposito verbeur word.
3.3 Let asb. daarop dat 'n bespreking nie met kansellasie aan 'n ander
huurder oorgedra kan word nie.
4. VRYWARING
Huurders gebruik die kampterrein op hulle uitsluitlike eie risiko en
vrywaar die Ned Geref Kerk en sy werknemers en vrywillige helpers teen enige eis
weens skade as gevolg van beserings of ongelukke.
5.
TOESIG EN DISSIPLINE
5.1 Die kampleier(s) aanvaar die verantwoordelikheid om vir die volle duur
van die kamp op die terrein teenwoordig te wees en die aanspreeklikheid dat die
kampreëls nagekom word.
5.2 Die raadgewerstelsel kan sterk by alle kampe aanbeveel word.
5.3 Onthou: Die goeie naam van die NG Kerk se kampaksie is op die
spel - u kan dit positief uitbou en bevestig.
6.
GEBOUE EN KAMPTOERUSTING
6.1 Die hele kampterrein moet skoon en
netjies agtergelaat word.
6.2 Beddens of matrasse mag nie uit die kamers verwyder word nie.
6.3 GEEN toerusting mag van een terrein na
'n ander verskuif, in
die reën,
OF
snags buite gelaat word nie.
6.4 Enige skade wat deur 'n huurder of iemand onder sy toesig
aangerig word, moet by die Skriba aangemeld word, sodat die onkoste verhaal kan
word. Ten einde u van aanspreeklikheid te vrywaar, moet u skade wat met u
aankoms waargeneem word, onmiddellik by die Terreinbestuurder aanmeld.
6.5 Huurders sorg self vir beddegoed, eetgerei, kruideniersware,
skoonmaakmiddels, swart sakke en ander benodigdhede.
6.6 Elkeen van die twee kombuise is voorsien van gasbranders,
'n elektriese stoof met oond,
'n koelkamer/spens en
'n ys- en vrieskas asook die
nodigste kombuistoerusting en warmwater.
6.7 Huurders word dringend versoek om
nié met enige elektriese- of
gastoerusting, masjinerie, pompe, krane of ander apparaat of toerusting te
peuter nie. Slegs die Terreinbestuurder is gemagtig om verstellings aan te
bring of herstelwerk te doen en kan met vrymoedigheid gekontak word in die geval
van knelpunte. Huurders sal aanspreeklik gehou word vir enige skade wat deur
ongemagtigde hantering veroorsaak word.
7.
KRAG- EN WATERVERBRUIK
7.1 Huurders word versoek om water spaarsaam te gebruik en om snags krag
te bespaar deur 'n ligte-uit tyd te bepaal en
nét die ligte van die
ablusieblokke te laat brand.
8. TERREIN
8.1 Huurders word versoek om aktief mee te
werk aan die bewaring van die terrein en die omgewing se pragtige
natuurskoon.
8.2 Alle afval moet in die vullishouers gestort word.
8.3 Kampvure
8.3.1 Weens die sensitiwiteit van die ekosisteem, is daar selfs in die
Bosveld nie altyd voldoende hoeveelhede hout vir braaivleis- en kampvure
beskikbaar nie.
8.3.2 Onder geen omstandighede mag
droëhout in die veld ingesamel word om
mee vuur te maak nie. Die Terreinbestuurder kan gekontak word vir die aankoop
van bondeltjies vuurmaakhout.
8.3.3 Weens die risiko van veldbrande, mag vure SLEGS op vasgestelde
vuurmaakplekke gemaak word.
8.4 Geen tydelike kragpunte of verlengings mag sonder toestemming van die
Terreinbestuurder aangebring word nie.
8.5 Die rivierwater is besmet met Bilharzia. Enige persoon wat
daarin gaan, doen dit op eie risiko.
8.6 Die kampterrein is deeglik omhein en al die omliggende grond moet as
privaat en dus verbode terrein beskou word.
8.7 Huurders word tot versigtigheid gemaan by die gebruik van die swembad.
Niemand mag toegelaat word om op die gedenknaald te klim om vandaar of vanuit
bome in te duik nie.
8.8 Aangeheg vind u 'n padkaart,
'n grondplan en
'n roetekaart van die wandelpaaie.
9.
KAMPPROGRAM
9.1 Indien twee groepe die
terrein gebruik, word aanbeveel dat die kampleiers hul programme aan mekaar
voorlê sodat beide groepe se behoeftes, bv aan stilte en die gebruik van
die swembad en ablusiegeriewe, geakkommodeer kan word.
9.2 Kampleiers word baie dringend versoek om toe te sien dat
stilte vanaf 22:00 op die kampterrein gehandhaaf sal word en dat kampgangers hulle nie aan
rusverstoring skuldig maak nie. Ander huurders en diegene op buurplase
(in besonder diegene betrokke by eko-toerisme) moet in alle omstandighede in
aanmerking geneem word - goeie buurmanskap is vir die Bestuurskomitee
'n ononderhandelbare prioriteit!
9.3 Kampleiers van kampe wat onder toesig van die Ned Geref Kerk geskied,
word versoek om tydens geestelike sang by voorkeur van die Liedboek,
Jeugsangbundel, die Psalm- en Gesangboek en "Sing onder mekaar" gebruik te maak.
9.4 Dit word van huurders verwag om hul Sondagprogram so in te rig
dat dit reg sal laat geskied aan die Sondag as Christelike Feesdag.
9.5 Dit word aanbeveel dat 'n dankoffergawe tydens die kamperediens
op Sondae ten bate van die instandhouding van die terrein ingesamel word.
Hierdie bedrag kan aan die Skriba oorbetaal word.
9.6 Die geestelike welsyn van die arbeiders op die terrein, Michael en
Flora, is vir die Beheerraad van besondere belang. Huurders word daarom
vriendelik versoek om hulle die geleentheid te bied om die eredienste van die
Verenigende Gereformeerde Kerk wat Sondae by die Badseloop Plaasskool gehou
word, by te woon.
10. ANDER BELANGRIKE SAKE
10.1 U moet self voorsiening maak vir
noodhulp deur die nodige saam te bring en te beplan vir gepaste optrede in
die geval van slangbyt of ander ongevalle. Die besonderhede van alle nood- en
mediese dienste wat te Naboomspruit en omgewing beskikbaar is, is by die
telefone aangebring.
10.2 Dit word aanbeveel dat slegs die kampleier 'n radio of ander
klanktoerusting saambring.
10.3 Dit word vertrou dat alle persone te alle tye welvoeglikheid sal handhaaf
wat hulle gedrag en kleding betref.
10.4 Die Terreinbestuurder, mnr Alwyn van Zyl, is verantwoording aan die
Beheerraad van Badseloop verskuldig aan wie hy uitmuntende diens lewer. Gee hom
asseblief die ruimste mate van samewerking ten opsigte van sekere
reëls waaraan
hy hom ook moet hou en gehoorsaam ook sy opdragte. Alle behoeftes en
reëlings
moet asseblief deur die kampleier aan hom oorgedra word.
10.5 Die arbeiders op die terrein, Michael en Flora, is in diens van
die Beheerraad en kan daarom nie
ook tot beskikking van huurders gestel word nie.
10.6 Die kampterrein bied ruim geleentheid vir dienswerkkampe.
Instansies wat belangstel om op hierdie wyse diens te lewer, word uitgenooi om
met die Skriba in verbinding te tree.
10.7 Enige wenke of donasies ten bate van die kampterrein, sal opreg waardeer word.
11. AANVAARDING VAN DIE REëLS
Die huurder neem hiermee kennis van hierdie inligtingstuk en
reëls en aanvaar
dit as voorwaarde tot die aangaan van die huurooreenkoms.
12. TEN SLOTTE
Baie dankie vir u ondersteuning
en hartlike samewerking! U word 'n baie aangename en ryklik
geseënde kamp
toegewens!
GOEDGEKEUR DEUR DIE
BEHEERRAAD VAN BADSELOOP JEUGKAMPTERREIN
Terug na Badseloop Tuisblad
|